Sunday 29 July 2012

Empatie met / teenoor onsself


Om empatie effektief aan ander te betoon, is dit belangrik dat ons eerstens empatie aan onsself moet betoon. Baie mense sukkel egter hiermee of om daardie balans reg te kry. Met Vroue Maand om die draai, kan en nie help nie om te dink aan al die vroue wat hul plek volstaan as ma, gemeenskapswerker en ook in die werksplek. Ander se behoeftes is dikwels eerste prioriteit, terwyl baie vroue se behoeftes of dit wat vir hulle belangrik is, dikwels nie op hul lysie van prioriteite is nie.

Die fondasie vir goeie en gebalanseerde empatie teenoor ander, lê opgesluit in 'n goeie selfbeeld (omgee vir self) en in goeie selfgeldendheid.


Is daar iets soos te veel empatie teenoor ander?
Inderdaad. Wanneer jy te veel empatie aan ander betoon, ten koste van jouself, is dit 'n aanduiding dat daardie balans uit proporsie is. Te veel empatie teenoor ander, veroorsaak ook dikwels dat jy deur ander uitgebuit of misbruik word. Dit lei tot frustrasie omdat jy nie oor die vermoë beskik om jou behoeftes aan ander te kommunikeer nie. Jy sê dikwels ja vir goed waarvoor jy eintlik nee moes sê. Later wanneer jy alleen is, tob jy daaroor: “Ek moes nie ja gesê het nie.” Hierdie is 'n tydrowende aktiwiteit en indien jy hiermee kan identifiseer, hoop ek dat jy sien hoe belangrik dit is om jouself te laat geld. Indien jy in hierdie kategorie val, vra jy dikwels: “Maar hoekom gebeur dit dan altyd met my?” Klink dit bekend? Indien ja, dan is dit tyd om die nodige veranderinge aan te bring.

Om die nodige veranderinge aan te bring, is iets wat nie oornag gaan gebeur nie. Dit vat tyd en baie oefening. Dis egter belangrik om te besef dat jou behoeftes en dit waaraan jy waarde heg, ook belangrik is, dat dit ook op jou lys van prioriteite behoort te wees. Kyk wat jy kan doen om jou selfbeeld te verbeter.

Leer om “Nee” te sê. Dis 'n klein woordjie, maar jy mag nie die waarde van hierdie woordjie onderskat nie. Om “nee” te kan sê wanneer nodig, kan baie bevrydend wees.

Sommige mense mag dit nodig vind om vir God toestemming te vra om een vloekwoord in hul woordeskap toe te laat. Kom, laat ons nou maar eerlik wees. Baie mense reageer nie goed op bedagsame optrede en omgee nie. Inteendeel, sommige dink dikwels dat jy 'n swakkeling is wanneer empatie vir jou belangrik is. Soms sien hulle jou as vloerlap en elke vuil skoen, soek jou uit wanneer hulle hulself aan iets wil afvee.

Nee, jy moenie begin om mense links en regs te vloek nie. Daardie woordjie is sommer vir jouself, om te gebruik wanneer jy alleen is, agter die rug van daardie misbruikers. Jy sal vind dis 'n wonderlike stres verligter.

Wanneer jou balans reg is, wanneer jy kan vra vir dit wal jy wil hê, wanneer jy goed voel oor jouself en jouself kan laat geld, kan jy hierdie vloekwoordjie laat gaan...of hou. Dis jou keuse.

Daar is ook mense wat daarmee sukkel om empatie aan ander te betoon. Vir sommige kan die rede hiervoor te veel self-belangrikheid wees wat dalk op 'n persoonlikheidsafwyking dui. In baie gevalle is daar nie juis iets wat hieraan gedoen kan word om dit te genees nie.

Aan die ander kant, is daar die persoon wat 'n tekort aan empatie het, omdat hulle genoeg gehad het daarvan om misbruik te word. Dit is ook nie 'n goeie opsie nie. 'n Goeie selfbeeld en selfgeldendheid kan veroorsaak dat jy nooit hierdie punt bereik nie. Net soos wat jy vir ander omgee en hul belange op die hart dra, net so behoort jou belange ook 'n prioriteit te wees. Dit gaan oor 'n gesonde balans.

Wat dink jy van empatie teenoor jouself? Is jy 'n slagoffer wat gereeld misbruik word deur ander?

Gesels gerus môre saam, tydens my gereelde empatie bydrae op RSG, tussen 09h00 & 10h00. Laat weet ons wat jy dink. Stuur jou sms na 33343, tussen 09h00 en 12h00. R1, 50 per sms.


Wat is jou empatie kwessie?
Is daar iets spesifieks waarmee jy sukkel wanneer dit by empatie kom? Wonder jy hoe jy empatie aan iemand wat jou seergemaak het, kan betoon of of dit enigsins moontlik is? Sukkel jy met empatie teenoor iemand wat anders as jy doen of glo?

Laat weet gerus deur jou sms te stuur na 33343. Ons fokus dalk volgende keer op jou spesifieke kwessie. Vir jou spesifieke empatie kwessie, kan jy elke weeksdag (tussen 09h00 & 12h00) jou sms stuur na 33343. Sms koste: R1, 50 per sms.

Wie is Andeline Williams-Pretorius
Andeline is Inspirerende Spreker & Skrywer. Sy ia passievol daaroor om 'n positiewe bydrae tot Suid Afrika te lewer en doen dit met haar opleidingsprogramme en praatjies.

Indien jy sukkel met Empatie, 'n Swak Selfbeeld of Selfgeldendheid, kan jy haar kontak vir meer inligting oor die individuele sessies wat sy aanbied.

Sien ook Andeline se webblad vir meer onderwerpe: Http://www.andeline.co.za

Besoek ook die facebook blad van die Empathy Veldtog (The Empathy Campaign) vir inligting oor wat hierdie veldtog behels.Http://www.facebook.com/empathycampaignsa

Mobile: 072 856 0218
Email: info@andeline.co.za




No comments:

Post a Comment